Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (13) – Van God met liefde

 Psalm 117:1-2 – Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!

Hierdie juweel is die kortste van al die Psalms en ook die kortste hoofstuk in die Bybel, maar die trefkrag daarvan ken geen perke nie. Dit is ‘n oproep tot alle volke om die Here te prys. Dit is ‘n oproep tot jou en tot my.

Dit was nooit God se bedoeling om sy kinders tot net een nasie of volk te beperk nie. God het dit reeds duidelik gemaak toe Hy Abraham geroep het en beloof het … in jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Genesis 12:3

Paulus, wat noem dat Jesus Christus in sy genade vir hom die voorreg gegee het om onder die heidennasies te werk, haal hierdie Psalms aan (Romeine 15:11) in sy pleidooi aan die Joodse Christene in Rome om die heidene te aanvaar: Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek bedoel dit: Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming kan verheerlik, … Romeine 15:7-9

Vandag voel baie mense steeds asof niemand hulle liefhet of vir hulle omgee nie. Baie mense is eensaam. Psalm 117 is ‘n persoonlike uitnodiging van die Here aan hulle en ook aan ons almal. Ons is die kinders van God se genade en van sy belofte.

God se liefde vir ons is so groot dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Johannes 3:16

God het ons lief. Hy wil ons as sy kinders hê. Hy sal ons nooit verlaat nie want aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die versekering dat, alhoewel ons soms alleen voel, ons nooit regtig alleen is nie. Dankie dat U ons liefhet. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.