Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (14) – Bly kalm en wees geduldig

Psalm 37:6-8: Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.

More is dit Menseregtedag in Suid-Afrika. Met dié dag word die Verenigde Nasies se wêreldwye Deklarasie van Menseregte herdenk. Op hierdie dag word daar op menseregtesake gefokus.

Sedert sonde die wêreld binnegekom het, is daar ‘n stryd tussen goed en kwaad. Die kwaad word in alle menslike aktiwiteite aangetref, soms selfs in die raadsale van die hoogste gesag.

Ons hoor soms van despotiese leiers wat hulle mag misbruik, hulle lande in armoede laat verval en dan in sogenaamde ballingskap gaan woon met miljoene in buitelandse bankrekenings.

Die geweld teen en misbruik van mense, veral vroue en kinders, raak ons harte diep en laat ons soms met alle reg baie kwaad word. Soms is die misbruik so afskuwelik, so verskriklik boos dat ‘n mens brand om wraak te neem. Die psalmdigter waarsku ons egter daarteen om wet en orde in eie hand te neem – “dit bring net ellende.”

Die psalmdigter sê dat ons ons nie moet ontstel nie. Ons word aangemoedig om die woede te laat staan en in stilte op die Here te vertrou. Die Here neem sy eie tyd. Ons kan maar net op Hom vertrou want Hy is in beheer. Die kwaad sal oorwin word en geregtigheid sal uiteindelik seëvier.

Gebed: Hemelse Vader, leer ons u voorskrifte. So dikwels wanneer ons ongeregtigheid ervaar, wil ons terugslaan. Skenk aan ons deur u Heilige Gees die krag om die kwaad met die goeie te beveg, en om daardeur u Naam te verheerlik. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.