Psalm 105:7 – Hy, die Here, is ons God; sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
Ons juweel vir vandag kom uit ‘n Psalm waar die grootheid van God besing word. Dit vertel die storie van Israel totdat hulle die beloofde land binnegetrek het.
Geïnspireer deur die Heilige Gees het die psalmdigter ‘n Psalm gedig wat, alhoewel hy dit miskien toe nie besef het nie, tot vandag nog op almal wat deur God verlos is, betrekking het.
Baie van ons ken St Augustinus se aanhaling: “The new is in the old concealed, the old is in the new revealed.” Soos Augustinus kan ons ook in die lig van die Nuwe Testament sien dat in Jesus Christus die volle betekenis van die Ou Testament vervul is.
In vandag se vers vertel die psalmdigter vir ons dat die Here ons God is, en dat sy reddingsdade oor die hele aarde strek. Die boodskap is duidelik. Hy is ons God en ons moet Hom loof en sy grootheid aan al die nasies bekend maak.
Dit is ‘n uitdaging vir alle Christene. Hoe kan ons deel wees van die Groot Opdrag en getrou wees aan hierdie opdrag? Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels … Matteus 28:19
God het jou miskien nie geroep om ‘n voltydse sendelinge te wees nie, maar jy kan steeds ‘n onmisbare rol vervul in die uitreik na die nasies.
Een manier hoe jy getrou kan wees aan die Groot Opdrag is deur die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub. Deur hierdie uitreik kan jy help verseker dat mense regoor die wêreld Bybels ontvang wat hulle vertel hoe groot God is en wat Hy vir hulle deur sy Seun, Jesus Christus, gedoen het.
So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Jesaja 55:11
Gebed: Almagtige God, dankie dat U my liefhet. Leer my hoe om u liefde met ander te deel sodat hulle ook U lof en grootheid sal besing. Ek bid dit in die Naam van Jesus wat met U en die Heilige Gees tot in ewigheid regeer. Amen
Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.