Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (17) – Sing tot eer van die Here

Psalm 89:16 – Dit gaan goed met die volk wat kan jubel tot u eer, wat in u lig lewe, Here.

Waar is dit vir jou die lekkerste om te sing? In die kerk, by ‘n konsert, ‘n sportgeleentheid of onder die stort? Ons hou van sing want dit help ons om uiting te gee aan ons innerlike emosies.

Liedere is vir eeue reeds deel van aanbidding. Reeds in Eksodus lees ons dat Moses en die Israeliete tot eer van die Here gesing het (Eksodus 15:1) en in dieselfde hoofstuk (Eksodus 15:21) is die lied van Mirjam vir ons aangeteken.

Die Psalms is grootliks lofliedere. Ons juweel vir vandag noem dat dit goed gaan met die mense wat tot eer van die Here sing. Dit gaan goed met hulle want hulle leef in die lig van die Here.

Gewyde liedere kan baie bemoedigend wees, veral wanneer dit saam met ander gesing word. Is dit enigsins moontlik om nie aangegryp te word deur die Halleluja Koor uit Handel se Messias wanneer dit, veral hier in die Paastyd, uitgevoer word nie? Moderne tegnologie soos DVD’s en CD’s maak dit selfs moontlik vir mense wat alleen of in afgeleë plekke woon om die Here deur sang en musiek te loof en prys.

Ons moet nooit vergeet hoekom dit met ons goed gaan nie en hoekom ons gelukkig is nie. Paulus, wat op die stadium wat hy hier geskryf het in kettings geboei was en alle rede gehad het om ongelukkig te wees, verduidelik dit so mooi in sy brief aan die Kolossense: Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. (Kolossense 3:12) Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. (Kolossense 3:16)

Aangesien ons weet dat die boodskap wat Paulus hier oordra, ook op ons betrekking het, is dit rede genoeg om, waar ons ons ookal bevind, tot eer van die Here te sing en te jubel.

Gebed: Almagtige God, U het die volheid van u liefde aan ons bewys. Salf ons met u Heilige Gees sodat ons deur woord en daad u Naam sal vereer. Ons vra dit in u Naam alleen. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.