Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (18) – In gesprek met God

Psalms 22:2 – My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Môre is dit Goeie Vrydag. Die dag toe Jesus Christus sy lewe vir ons opgeoffer het ten einde ons verhouding met God te herstel.

Stel jou voor, daardie eerste Goeie Vrydag. Ons Here is uitgeskel, gespot, geslaan, verneder en ter dood veroordeel. Toe is Hy aan die kruis gespyker waar Hy in folterende pyn gehang het.

Sy uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat” weerklink steeds deur die eeue. Dit is die mees verlate woorde en elke Goeie Vrydag deurboor dit ons harte opnuut.

Op hierdie, die absolute laagtepunt van sy lewe hier op aarde, wend Jesus Hom tot die Psalms. Dit is iets wat ons gerus kan onthou wanneer ons teëspoed ondervind.

In hierdie uiterste van omstandighede het Jesus nie sy verdrukkers gevra om Hom te begenadig nie. Hy het ook nie sy dissipels, waarvan almal behalwe een Hom verlaat het, gevra om te help nie. Nee, Hy het Hom direk tot God gewend.

Wanneer ons ‘n krisis beleef, is gebed selde ons eerste prioriteit. Ons verkies om eers na ander ondersteuning te soek.

In hierdie uitroep tot God werp Jesus Homself volkome op God. Hy lug sy diepste gevoelens volkome en eerlik teenoor God.

Ek vermoed dat ons soms te skaam is om openhartig te wees in ons gebede. Soms bid ons eerder in ‘n tradisionele trant en gebruik ‘n paar bekende frases eerder as om werklik vir ons Hemelse Vader te sê wat ons op die hart het.

Ons Vader ken ons harte en vir ons eie onthalwe moet ons volkome deursigtig wees wanneer ons met Hom praat.

Gebed: Hemelse Vader, maak ons vry van alle pretensies wanneer ons bid. Deur u Heilige Gees gee aan ons die moed om ons harte te open en om wanneer ons met U praat ons gevoelens eerlik en opreg te lug, soos ‘n kind met sy ouers. Ons bid dit in die Naam van Jesus, wat vir ons aan die kruis gesterf het. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.