Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (6) – God in my hart

Psalm 19:15 – Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

Ons vers vir vandag word dikwels deur predikante gebid voordat hulle met die preek begin. Dit is ‘n opregte versoek dat hulle woorde en denke vir die Here aanneemlik sal wees.

Hierdie juweel van ‘n gebed is egter nie net tot die kansel beperk nie, maar behoort volledig deel van elke Christen se wapenrusting te wees. Die psalmdigter vra dat sy woorde en denke vir die Here aanneemlik moet wees. Jesus beklemtoon oor en oor dat slegs dit wat ons dink en wat in ons hart leef, werklik saak maak. God verdra nie onopregtheid nie. Ons kan nie een ding dink en ‘n ander ding doen nie.

In een van die kere wat Hy die Fariseërs berispe sê Jesus: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?” Lukas 11:39-40.

Indien die woorde van my mond vir God aanneemlik moet wees, moet my hart en siel ook reg wees met God. Sagaria die profeet, waarsku ons dat ons nie bose planne teen mekaar moet bedink nie. (Sagaria 7:10)

Ons kan almal probeer om Sagaria se raad te volg, maar ten spyte van al ons goeie bedoelings sal ons nie daarin slaag nie. Soos die psalmdigter benodig ons die hulp van God.

Ons het die Heilige Gees nodig om ons harte en denke te verander. Slegs dan, en dan alleen, sal dit wat jy dink en die woorde van jou mond vir Hom aanneemlik wees.

Gebed: Almagtige God, gee dat ons getuienis teenoor ander vir U aanneemlik sal wees. Ons bid dit in die Naam van Hom, u Seun, wat saam met U en die Heilige Gees tot in ewigheid regeer. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.