Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (7) – Wie is ek?

Psalm 8:5 – Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

Het jy al in die stilte van die nag opgekyk na die maanverligte hemel en jou verwonder aan die helderheid van die sterre wat soos diamante skitter? Om die wonder en uitgestrektheid van God se skepping met jou as mens te vergelyk, is ‘n nederige ervaring. Dit laat jou baie klein en nietig voel.

Eeue voor die koms van Christus, het Dawid ook so na die naghemel gekyk. Dit wat hy gesien het, het hom so beïndruk dat hy begin het om vrae aan God te stel.

Hy vra aan God, “wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” En hy ontvang ‘n goddelike openbaring. “U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp.”

Daar is ‘n boek deur Gary Younger met die titel: “Who are we? And should it matter in the 21st century?” Die bybelse antwoord daarop is: “Ja, dit maak baie saak.”

God het sy ganse skepping aan die mensdom toevertrou. Dit is wat ons van alle ander vorms van lewe onderskei.

Hy het ons as beskermers van sy skepping aangestel en ons is aanspreeklik aan God vir dit wat ons daarmee doen. Dit is ‘n ontsaglike verantwoordelikheid. Hoe kan ‘n individu met ‘n beperkte invloed enigsins so ‘n opdrag uitvoer?

Miga, die profeet, het vir ons ‘n bloudruk neergepen. Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Miga 6:8

Loof die Here dat daar nie van ons verwag word om dié pad alleen te stap nie. Die God van geregtigheid en liefde wat Homself in Jesus Christus openbaar, sal elke tree van die pad met ons wees. Gelei deur die Heilige Gees, kan ons in die geloof voortgaan om die wil van God tot sy eer uit te voer.

Gebed: Almagtige God, deur die krag van u Heilige Gees wat in ons woon, skenk aan ons ontsag en respek vir u skepping en vir elke persoon met wie ons in aanraking kom. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.