Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (8) – Lus vir die lewe

Psalm 100:3 – Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.

Hoe sal jy jouself beskryf? Vrolik of beswaard oor dit wat die lewe jou bied.

In ons samelewing is daar soveel geweld, soveel nare dinge wat seermaak dat dit maklik is om ons lus vir die lewe te verloor. Die gees van die tyd laat ons dikwels die ergste vrees. Mediaberigte oor wrede moorde, verkragtings, rooftogte en geweld in die algemeen is alledaags.

“Man’s inhumanity to man makes countless thousands mourn.” Hierdie woorde wat die Skotse digter, Robert Burns, in 1784 neergepen het, is vandag steeds relevant.

Dit is nie net slagoffers van geweld en ongeregtigheid wat hulle lus vir die lewe verloor nie. Soms kan ware of denkbeeldige probleme met familie, vriende of kollegas ons verhoudings met hulle versuur.

Die oortuiging dat ons te nagekom is, kan soms ‘n negatiewe impak op alle terreine van ons lewens uitoefen. Om te keer dat ons nie in ‘n diep depressie verval nie, moet ons hierdie selfvernietigende houding oorkom. Die Bybel vertel ons hoe om dit reg te kry. Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Psalm 100:3

Daar is geen rede om verbitterd deur die lewe te gaan nie. Die Almagtige Skepper is ook ons Hemelse Vader wat vir ons omgee en in ons behoeftes voorsien. Daardie heilige belofte behoort ons met vreugde te laat sing en Hom met danbaarheid te loof en prys. Wat ook al ons omstandighede, God is getrou. Hy is in hierdie oomblik by jou en sal altyd met jou wees.

Gebed: Almagtige God, U het die hemel en die aarde gemaak en ons na u beeld geskep. Help ons om deur u Heilige Gees altyd u hand in alle omstandighede te kan sien. Dit bid ons in Jesus se Naam. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.