Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (9) – ‘n Opdrag van God

Psalm 46:11 – Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Tussen al die waardevolle juwele in die skatkis van die Psalms lê ons vers vir vandag, veral die eerste deel “Bedaar en erken dat Ek God is,” vir baie mense na aan die hart.

Deur die eeue was Psalm 46 vir baie gelowiges ‘n bron van krag en inspirasie. Martin Luther het onder andere die lied wat ons ken as “‘n Vaste burg is onse God” op hierdie Psalm gebaseer.

Al is die wêreld in chaos en voer die nasies oorlog die Here die Almagtige is altyd by ons. Hy is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming en altyd bereid om ons te help in nood.

Die psalmdigter vertrou volkome op die krag van God. Die aarde mag wankel, maar daar is net een beskutting, een Rots, die Here die Almagtige. Hy is al die sekuriteit wat ons benodig. Selfvertroue in ons eie vermoëns om vir onsself te kan voorsien, is slegs ‘n bewonderenswaardige eienskap as ons in ons beplanning die Here nie buite rekening laat nie.

Soms word ‘bedaar, misverstaan en mense dink dat dit net beteken dat ons kalm moet wees en op dit wat gesê word, moet fokus. Dit het egter ‘n baie dieper betekenis. Dit is ‘n goddelike opdrag: “Stop waarmee jy besig is en erken dat Ek God is.”

Ongelukkig neem dit soms ‘n groot terugslag, ‘n skielike tragedie of ‘n ernstige operasie om ons die werklikheid te laat besef. Ons moet egter nie wag vir ‘n krisis om ons te laat bedaar en te erken dat die Here God is nie. Daar is nie ‘n beter oomblik as juis nou nie.

Gebed: Ewige God en Vader, ek erken dat U God is, my Verlosser, my skild en krag. Ekvertrou op U. Gee dat ek deur u Seun, my Here, u liefde waardig sal wees. Ek bid dit in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.