Gedagte vir die dag: Jy is beeld van God

Psalm 8:6 – “U het hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon” .

Hierdie “hom” waarvan die Psalmdigter skryf, is jý wat nou hierdie woorde lees. God het jóú amper soos ʼn hemelse wese gemaak en aan jou aansien gegee. Hy het kwaliteit ingedagte gehad toe Hy jou gemaak het. In Genesis 1:26 lees ons dat God besluit om die mens te skep as sy verteenwoordiger, as sy beeld; en nadat Hy, na alles wat Hy gemaak het gekyk het, het Hy besluit dat dit goed was. Of liewer, met die evaluering van die mens, was God van mening dat dit “baie goed” was!

Hy kyk vandag na jou met verwondering. In sy oë is jy asemrowend. Hy droom drome oor jou, Hy is opgewonde oor jou en maak planne vir jou. Behalwe daarvoor dat Hy jou met soveel sorg geskep het, het Hy deur Jesus se kruisdood boonop bewerkstellig dat jy mede-erfgenaam saam met Christus is!

Ek en jy – amper hemelse wesens, verteenwoordigers van God, beeld van God – hoe handhaaf ons onsself elke dag? Leef ons as beelddraers van die Almagtige, as erfgename van die enigste God? Herinner ons onsself daaraan dat ons die kroon van God se skepping is en daarvolgens moet optree?

Wanneer jy vandag by ʼn spieël verbyloop, talm ʼn oomblik, kyk na jou beeld en probeer raaksien wat God sien. “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep” [Psalm 139:13].

Gebed: Here, vanoggend verwonder ek my in die feit dat U vir my so lief is en my so hoog ag. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, O God! Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.