Gedagte vir die dag: Is jy gereed as die Here vandag sou kom?

1 Tessalonisense 5: 2 – “Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag.”

Die Australiese skrywer Morris West skryf in sy roman: “The Clowns of God” ʼn baie aangrypende verhaal.

Hy vertel van die denkbeeldige Pous Gregorius 17. Die fiktiewe verhaal speel af in 1992 en die wêreld is in groot konflik, gereed vir ʼn volgende wêreldoorlog. In Europa en in Amerika is die atoomwapens teen mekaar gerig. In die Vatikaan besluit die Pous dat hy homself gaan afsonder en by die Here leiding soek watter boodskap hy vir die miljoene gelowiges moet gee. Terwyl hy op ʼn dag alleen in ʼn klooster sit, verskyn ʼn engel van die Here aan Hom en gee opdrag dat hy moet bekend maak dat die groot dag van die wederkoms uiteindelik gekom het. Die gelowiges moet hulle gereed maak om die Here te ontvang! Vir homself was dit ʼn skok , maar aan sy visioen het hy nie getwyfel nie.

Hy stuur toe ʼn pouslike omsendbrief aan al die kerkleiers op aarde. Die kardinale in die binnekring is egter woedend. Hulle was dit eens: “Die Pous het kop verloor . As leier van die grootste kerk op aarde pas dit nie om so onverantwoordelik op te tree nie. Die aandelebeurs gaan tuimel en mense sal angsbevange wees.” Uiteindelik dwing hulle die Pous om te bedank. Die kern van die gebeure was dat dit Christene was wat nie die boodskap van die wederkoms kon hanteer nie.

Hierdie verhaal het my laat dink of ons regtig gereed is vir ʼn onverwagte koms van die Here Jesus. Is jy ook verleë as ander mense oor die wederkoms praat? Die Here belowe Hy sal soos ʼn dief in die nag kom. Niemand sal Hom verwag nie. Is jy gereed as die Here vandag weer sal kom? Sou die Here tevrede wees met waarmee jy nou besig is? Ons sê almal dat ons uitsien om die Here weer te sien, maar is dit regtig by jou die geval? Leef jy nie dalk asof die wêreld die belangrikste plek vir jou is nie? As jy ʼn lewe van betekenis wil leef sal jy vandag moet weet dat die Here wil hê dat ons elke oomblik gereed moet wees vir sy wederkoms!

Gebed: Here help my om enige oomblik u wederkoms te verwag. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.