Gedagte vir die dag: Jy is enig in jou soort

enigPsalm 139:13,14 – Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.

Jare gelede het ek die voorreg gehad om die Madame Tussauds –museum in Londen te besoek. Daar staan beelde van Robbin Williams en Oprah Winfrey wat presies soos hulle lyk. My mond het oopgehang. Nader as dit aan die perfekte replika sal jy nie kan kom nie. Die korrekte gevolgtrekking is en bly egter steeds dat daar net een Robin Williams en net een Oprah Winfrey is. Hulle is enig in hul soort. Dit geld uiteraard vir elkeen van die sewe biljoen mense op aarde. Daar is net een jy. Daar is net een met jou unieke persoonlikheid en talente wat lyk soos jy en praat soos jy. Ons probeer soms kliphard om soos ander te wees: soos hulle aan te trek en te praat. Wat ʼn fout! Jy meng sleg in met God se unieke skeppingswerk. Hy het jou so sorgvuldig gevorm en aanmekaargeweef. Hy het jou volmaak geskep. Dalk is jy ongelukkig met jou voorkoms, of ʼn deel daarvan. Ek het vir jou goeie nuus: God het jou tot in die fynste detail gemaak. Hy het ʼn plan met jou lewe. Daar is ʼn rede hoekom jy leef. Daarom het God jou uniek en enig in jou soort geskep. Loof die Here omdat jy een in sewe biljoen is! Loof die Here omdat jy een in sewe biljoen is! Loof die Here omdat Hy jou sorgvuldig en deeglik gemaak het vir ʼn unieke doel en plan!

Moet niemand meer versigtig wees as vir jouself nie. Ons huisves ons grootste vyand in ons eie hart. – Charles H Spurgeon

Gebed: Here, dankie dat daar niemand anders soos ek is nie. Dankie dat U ʼn spesiale plan met my lewe het. Ek loof U omdat U my wonderbaarlik geskep het.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.