Gedagte vir die dag: Jy kan skuil by God

Psalm 11:1; Psalm 16:1 – Ek gaan kruip weg by die Here. Ek verstaan nie hoekom mense vir my sê om soos ʼn voël weg te vlieg en op ʼn ander plek hulp te soek nie. Beskerm my, o God, want ek kom kruip by U weg. U pas my op.

Ek het al baie keer in my lewe gevoel ek wil net wegkruip. Net die afgelope week het ek vir iemand gesê ek wens dat ek net so ʼn klein bietjie kan wegkruip. Die goeie nuus is dat jy kan. Ja, dit hoef nie in ʼn grot te wees nie en jy hoef nie duisende kilometer te ry om weg te kom nie. God is jou skuilplek en by Hom kan jy elke dag wegkruip. Die een gewoonte wat elke mens moet aanleer in ons lewe vandag is om by God weg te kruip en toe te laat dat Hy jou beskerm. Leer die gewoonte aan om doodgewoon elke dag stil te sit by Hom en elke saak in diepte met Hom te bespreek. My eie leuse in die lewe is om eers met God te praat oor alles voordat ek met enige mens daaroor praat. Dit is hoe ʼn mens by God wegkruip. Jy kan Hom ken in alles. Jy kan alles in jou lewe aan Hom oorgee. Jy kan Hom vra om jou elke dag te lei en beskerm. Hy is getrou en hy sal dit doen. Hou op om ʼn klip te soek waaragter jy kan skuil. God is jou beskermer.

Gebed: Dankie dat U die Beskermer is. Dankie dat ek by U kan wegkruip. Dankie dat U my skuilplek is.

Toe die bekende evangelis Charles Spurgeon gevra is: “Waar is God?” was sy rustige antwoord: “ Die vraag is eintlik: Waar is God nie?” 

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.