Gedagte vir die dag: Jy is waardevol

Psalm 8:5, 6 – En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie! Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U belangrik. U het hom so belangrik gemaak dat hy amper soos U is; U behandel hom soos ʼn koning; U gee ʼn baie hoë posisie aan hom. U wil hê dat die mens oral moet wys hoe groot U is. Hy is mos u verteenwoordiger. Hy regeer oor die hele aarde.

In hierdie kompeterende wêreld gaan dit vandag vir geweldige baie mense oor geld, besittings en dinge in plaas van oor mense. Verhoudings, dit wat werklik vir God belangrik is, tel in baie mense se oë en hoe hulle optree baie min. Daarom behandel hulle mense asof hulle dinge is, of slegs ʼn nommer. Dit laat ʼn mens baie twyfel oor jouself. Baie mense se selfvertroue is baie laag en hulle wonder die hele tyd oor hulle eie waarde en of dit wat hulle doen werklik waarde toevoeg tot die samelewing. Jy moet altyd onthou dat jy nie een of ander item op ʼn winkelrak is waarvan ʼn prys gekoppel is nie. Baie mense sien hulself altyd as die uitverkopingsitem teen die heel laagste prys – waardeloos.
God het aan elke mens ʼn waarde kom gee deur jou sorgvuldig te skep om in te pas in sy plan vir hierdie wêreld. Hy het jou kom skep om ʼn rol te speel in hierdie lewe. Onthou net jou rol is anders as ander mense sʼn, en uniek. Jesus aan die kruis is die prys wat God betaal het om aan jou waarde te gee. Moet nooit twyfel aan jou rol en jou waarde nie.

Gebed: Here, U het my gemaak vir ʼn unieke rol. Dankie dat Jesus aan die kruis vir my waarde gee.

God het jou so lief asof jy die enigste persoon in die wêreld is, en Hy het almal in die wêreld so lief.
– Augustinus van Hippo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.