Gedagte vir die dag: Kan pyn ‘n gawe wees?

manMarkus 1:40 –   Daar kom toe ʼn melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

Melaatsheid was die verskriklikste lot wat ʼn mens in die antieke tyd kon oorval. Jou doodsvonnis is feitlik gevel met die eerste tekens van hierdie siekte. ʼn Melaatse is dan ook as ʼn lewende lyk beskou. Daarom het dieselfde wette met betrekking tot die dood en die aanraking van ʼn lyk vir melaatsheid gegeld. Daar is nie van melaatsheid as ʼn siekte gepraat nie maar as onreinheid, en derhalwe is ʼn melaatse nie van sy siekte “genees” nie maar wel “gereinig”.

Die soort melaatsheid wat in die antieke tyd en veral in die Midde-Ooste voorgekom het, was anders as die siekte wat vandag as melaatsheid bekendstaan. Met moderne melaatsheid word die senupunte in die liggaam stelselmatig vernietig sodat die slagoffer alle gevoel verloor. So ʼn persoon kan dan mettertyd geen pyn meer voel nie. Die gevolglike skade en verminking is grotendeels aan hierdie gebrek aan gevoel te wyte. Melaatses kan byvoorbeeld nie voel wanneer hulle in ʼn doring trap of hulle hand op ʼn warm stoofplaat sit nie. Hulle sal ook nie hulle oë knip wanneer stofdeeltjies daarin waai nie, met die gevolg dat die horingvlies uitdroog en beskadig word, en hulle mettertyd blind word.

Dr Paul Brand, die grootste gesaghebbende op die gebied van moderne melaatsheid, het eenmaal gesê: “Ek kan aan geen groter geskenk dink wat ek aan my melaatse pasiënte kan gee nie as die geskenk van pyn.” Van nature sou ons graag geen pyn wou ervaar nie, maar in ʼn sekere sin is pyn ons bondgenoot. Pyn waarsku jou immers dat daar iets verkeerd is, en dring jou om aandag daaraan te gee.

Gebed: “Dankie vir my sintuie, Here, selfs vir die vermoë om pyn te kan ervaar. Amen.“

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.