Gedagte vir die dag: Kies jou vriende reg

Psalm 1:1 – God hou sommer baie van jou, want jy leen nooit jou ore aan slegte mense uit nie. Jy hardloop nie agter elke nuwe sonde op die mark aan nie. Jy is ook nie bevriend met daardie spul wat met God spot nie.

Een ding wat jy nooit ontgroei nie, is die invloed wat jou vriendekring op jou het. Die ou spreekwoordjie: “Aan jou vriende word jy geken,” is altyd waar. Die kuns in die lewe is net om jou vriende so te kies dat dit vir jou ʼn diep trots is om wel aan jou vriende geken te word. Kinders hou ʼn mens fyn dop – soos ek altyd sê: “Hulle luister met hulle oë.” Pa en ma, jou kinders leer by jou oor vriendskap. Hulle by jou hoe om hulle vriende te kies. Ware vriende is mense wat jou deur dik en dun bystaan – mense wat iets van opoffering verstaan. Die mense saam met wie jy kan lag en huil – mense met integriteit, en altyd betroubaar. Dit is natuurlik dat jy ook so sal optree teenoor die mense in jou vriendekring. Jou kinders sien ook jou opofferings teenoor jou vriende en leer daaruit. Dien jy saam met hulle die Here? Is daar wedersydse respek en maak julle die lewe vir mekaar makliker en lekkerder? Dit is ware vriendskap. Gaan wees jy ook so ʼn vriend.

Enigiemand wat jou nader aan God bring, is jou beste vriend. – Anoniem

Gebed: Here, ek besef dat my keuse van vriende my lewe beïnvloed. Mag my vriendekring U laat glimlag en mag ek vir hulle ʼn vriend met integriteit wees.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.