Gedagte vir die dag: “Kom na My toe”

Matt 11:28– “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee”.

Nog nooit het iemand sulke woorde gesê nie! Eintlik kán niemand anders as Jesus dit sê nie. Trouens, dit sou onbillik wees om van enigiemand anders dit te verwag. Hierdie woorde is die hart van die evangelie, ‘n opsomming van die goeie nuus. Dit is ook ‘n praktiese definisie van geloof. Daar is immers meer as een verduideliking van geloof. Hierdie vers in Matteus 11 is een van die mooistes: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Hierdie uitnodiging is nie na ‘n plek, ‘n godsdiens, ‘n leer, ‘n ideologie of ‘n stelsel toe nie, maar na ‘n Persoon – die Persoon van Jesus Christus.

Dit verwys na ‘n ervaring – nie na die aanvaarding van ‘n spesifieke lering nie. Dit gaan hier oor ‘n ontmoeting met ‘n Persoon eerder as oor sy leerstellings. Jy kan God nie vind deur ‘n verstandelike soeke nie. Nee, jy werp jou gelowig in sy arms.

Hierdie mooiste en wonderlikste van alle uitnodigings nooi mense na Christus toe. En dit is die onweerlegbare getuienis van miljoene deur die eeue heen dat ware rus en vrede alleen en volkome te vind is in die Persoon van Jesus Christus, in ‘n ontmoeting met Hom, in ‘n verhouding met Hom.

Daar is min “oop” uitnodigings in hierdie lewe wat die moeite werd is. Die meeste spesiale uitnodigings is redelik selektief – nie almal kan kom nie. Hierdie soewereine uitnodiging is egter onbeperk. Dis so wyd soos die wêreld. Ook jy kan maar net jou naam invul en gaan. Dit laat dink ’n mens aan Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad …”; aan Jesaja 55:1: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe …” en aan Openbaring 22:17: “En elkeen wat dors het, moet kom …”

Gebed: Laat dit tot my deurdring, Here, dat hierdie uitnodiging ook vir my is. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van die AGS van Suid Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.