Gedagte vir die dag: Kom tog terug!

hartHos 2:6 – “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou”.

“Teenspoed kan nie ophou voordat God sien dat ons nuut gemaak is, of anders dat dit hopeloos is om ons te probeer nuut maak nie,” het CS Lewis geskryf. In hierdie hoek van Hosea sien ons hoe die Here teenspoed wil gebruik om sy volk na Hom toe terug te roep. Hy verlang dat hulle sal terugkeer.
Hosea begin met ‘n gesinsvergadering waar hy sy vrou by haar kinders aankla (Hos 2:1). Haar optrede bring skande oor die hele huisgesin. As hy teenoor haar moet optree, sal sy versorging van die buite-egtelike kinders ook tot ‘n einde kom (v 3). Sy het gedink dit is haar minnaars wat vir haar sorg, en het nooit besef dit was haar eie man nie (v 7). So was dit ook met Israel. Hulle het geglo dit was hulle afgode wat voorspoed verseker het, en nooit besef dat dit God was wat vir hulle gesorg het nie. Nou sal Hy hulle dwing om terug te kom deur alles weg te neem wat Hy bulle gegee het (v 8). Hulle het baie godsdienstige feeste gehad, maar hulle het nie die Here gehad nie. Daarom gaan Hy ‘n einde maak aan hulle vormgodsdiens. Maar dit is nie die einde van alles nie, soos ons nog sal sien.

Dalk is dit ‘n goeie tyd om na jou eie lewe te kyk. Hoe gaan dit met jou liefdesverhouding met jou Here? Is Hy nog steeds Nommer Een in jou lewe? Of het jy nie meer tyd om aan Hom te bestee nie? Hoe, dink jy, voel die Here oor jou?

Gebed: “Here, vergewe my dat ek so maklik van U vergeet en my liefde aan my afgodjies gee.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.