Gedagte vir die dag: Konneksie in Omgee

hart1Joh 3:17: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir Hom toesluit, hoe bly die liefde van God in Hom? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”

Omgee het ‘n tweelingbroer wat onafskeidbaar met hom saamloop. Sy naam is Doen. Omgee vloei uit ‘n hart van liefde en liefde kan nie anders as om homself in dade uit te druk nie. Neem ons verder Jakobus se skokkende uitlating dat geloof sonder werke dood is in ag, beteken dit eintlik niks as ons sê ons gee om vir mense en ons DOEN nie iets vir hulle nie.

Wanneer Jesus se liefde vir mense dus uitdrukking vind in emosie, is dit meer as emosie met sentiment, dit is ‘n praktiese liefde, ‘n praktiese omgee.

Jesus voel jammer vir mense – ‘n emosie eie aan die mens. Sy jammerte is egter ‘n uiterlike manifestasie van Sy Goddelike omgee vir mense. Daarom kan Hy nie anders as om iets aan hulle omstandighede te doen nie: Hy voed ‘n skare van 5000 wat vir dae al sonder kos is (Matt 15); Hy hoor hoe twee blindes desperaat na Hom om hulp roep en Hy maak hulle oë gesond (Matt 20); Hy droog ‘n weduwee se trane op toe Hy haar enigste seun op pad na sy graf, uit die dood opwek. (Luk 7).

Jesus gee egter ook met die verstand of rede om vir mense. In Sy laaste doodsnikke aan die kruis, bid Hy vir Sy laksmanne: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk 23:34) – Sy omgee wil nie dat hulle sonder vergifnis hul lewens verder leef nie.
Sy omgee strek verby Sy dood – Hy vestig ‘n versorgingsverhouding tussen Sy ma en geliefde vriend Johannes.(Joh19:26).

Jy mag maar desperaat na Hom roep vir lig in jou nag-omstandighede en jy mag maar met naakte vrymoedigheid vra vir jou stukkie brood vir vandag. Hy gee om en Hy SAL aksie neem omdat Sy liefde vir jou die sneller is.

Die vraag wat jy vir jouself moet vra en beantwoord is: Gee ek genoeg om vir my medemens om Jesus vir hulle te wees en tot aksie oor te gaan? Of kies ek om oppervlakkige emosiegedrewe kontak met mense te hê? Hoor dan maar weer Johannes se woorde: “Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”

Gebed: Vader, my omgee vir mense is baie dikwels net ‘n emosie van jammerte. Gee my konstante bewustheid van U teenwoordigheid en betrokkenheid in my lewe en maak my vleeslike en geestelik oë oop sodat mense se nood vir my sal word asof dit my eie nood is. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.