Gedagte vir die dag: Konneksie: Wees mens vir ander mense

Iran-Deserts Psalm 102:7,8: “Ek voel so verlate soos ‘n pelikaan in die woestyn, soos ‘n uil tussen murasies. Ek is slapeloos en het geword soos ‘n eensame voël op die dak.”

Hierdie raak beelde verduidelik presies die belewenis van eensame en verlate mense :
jy voel uitgestoot, jy beleef dat jy onsigbaar is in geselskap, mense stel nie belang in jou nie, hulle het jou vergeet. Mary Greer se woorde is ‘n raak beskrywing: “Loneliness is living in a shell.”

Jesus het sonder moeite met hierdie soort mense konnekt. So nooi Hy Homself vir ete by Saggéüs, ‘n gehate tollenaar – en Hy, God self, word mens vir ‘n ander mens. Die gevolg? ‘n Sondaar, ‘n winsjagter en ‘n afperser se lewe word deur hierdie onkonvensionele hand van vriendskap gered en hy verander wonderbaarlik in ‘n mens vir ander mense: hy gee vierdubbel terug wat hy afgepers het, en deel die helfte van sy besittings aan die armes uit.

Toe ‘n Samaritaanse vrou water kom skep op ‘n tyd wat niemand anders daar sal wees nie, sien Jesus nie ‘n vrou met ‘n verlede en ‘n reputasie raak nie, maar ‘n eensame mens in nood – ‘n pelikaan wat in die woestyn ronddwaal. Hy knoop intensioneel met haar ‘n gesprek aan – sal sy mens vir ‘n ander mens wees en water vir Hom skep? En deur Sy gesprek met haar daarna, word Hy eers mens vir haar en uiteindelik ook haar Verlosser.

Dalk voel jy verlate soos ‘n pelikaan in die woestyn, ‘n uil tussen murasies of eensaam soos ‘n voël op ‘n dak, onthou Jesus se woorde: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk19:10). Lig jou dan op van jou dak van eensaamheid, of jou murasies en woestyn van verlatenheid en hardloop na Hom toe – Hy wag vir jou en wil by jou kom woning maak.

Of dalk weet jy van iemand anders wat so voel. Word dan mens vir daardie mens – kraak daardie dop van sy eensaamheid oop. Jy vra Hoe? Gee jouself en jou tyd. Stel belang in wie hy is, waarvan hy hou, nooi hom vir ‘n koppie koffie, gaan uit jou pad uit om die Godbeeld in die mens voor jou raak te sien. So word jy instrumenteel om die gawes in daardie dop, vlerke te gee.

Gebed: Vader, ek wil mens wees vir ander, maar ek weet dat ek dit nie kan wees as ek nie in die eerste plek mens vir U is nie. Help my hiermee asseblief? Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.