Gedagte vir die dag: Koop die tyd uit

Psalm 90:10,12 – Die meeste van ons word maar so 70 Jaar oud. Mense wat sterk is, kan dalk nog 80 haal. Maar die lewe loop hand aan hand met swaarkry en hartseer. En dit gaan bitter gou verby. Die dood kom nog vinniger as wat ons dink. Daarom vra ons: Help ons om U te dien en om gelukkig te lewe. Maak ons slim sodat ons elke dag sal gebruik om reg te doen.

Dit is vir my so hartseer dat daar baie mense wat net asemhaal in plaas daarvan om voluit te leef. Ja, hulle beweeg, eet en drink, maar leef nie. Tyd vlieg. Daar is min dinge so waar soos dit. As ek net dink hoe die sokkerwêreldbeker in ons pragtige land iewers nog baie ver gevoel het en nou lê dit al weer ver in die verlede. Ja-nee, tyd vlieg! In God se “van ewigheid tot ewigheid” het Hy jou spesiaal geskep om ʼn belangrike rol in sy plan met hierdie wêreld te speel. Jy leef nie toevallig nie. God het jou spesiaal aanmekaargeweef vir ʼn baie spesiale rol en plan. Daarom mag jy nie een dag van jou lewe mors nie. Daarom moet jy baie wys met jou tyd omgaan. Tyd is een van die geestelikste dinge waaroor ons met mekaar kan gesels. Praat met die Here oor die wyse aanwending van jou tyd. Vra kritiese vrae oor TV-kyk en ander nuttelose vermorsing van kosbare tyd.

Twee dinge kry ons nooit weer terug nie: woorde wat uitgespreek en tyd wat verspeel is. – Thomas Fuller

Gebed: Here, help my om die tyd uit te koop. U het my gemaak vir ʼn spesifieke doel en plan. Help my om my tyd wys te gebruik, Here.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.