Gedagte vir die dag: Laat die Here jou raadgewer wees

Psalm 32:8 – Hy het gesê: Ek is soos ʼn onderwyser vir jou. Ek vat jou aan die hand om jou op die regte pad te lei. Ek sal jou elke keer die regte raad gee. Ek sal jou oppas.

Wie gee jou raad? Vir wie vra jy raad? Jy gaan tog nie vir iemand wat fantasties koek bak raad vra oor hoe om jou motor te herstel nie. Jy sal mos nie ʼn uitstekende atletiekafrigter vra om jou kind te leer swem nie. Dit voel baie keer vir my of mense so deur die lewe gaan. Hulle vra raad en kry raad van die vreemdste plekke en bronne. Dit is vir my ʼn duidelike voorbeeld van met min te vrede wees. In my eie lewe het ek baie goeie onderwysers en dosente gehad wat vir my baie beteken het en by wie ek baie geleer het. Hulle het die vermoë gehad om hul kennis uitstekend oor te dra. Uit die aard van die saak is daar ʼn paar wat regtig nie baie goed was met daardie gedeelte nie en by wie ek dan ook nie baie geleer het nie. In God het jy die alwyse Raadgewer. Hy is die bron van wysheid, kennis en insig. Alles begin en eindig by Hom. Hy is van ewigheid tot ewigheid God. Ken jy Hom werklik as jou Raadgewer? Hy belowe Hy sal elke keer vir jou die regte raad gee – gebruik jy dit? Hou op koekresepte soek by motorwerktuigkundiges. Draai na God as jou Raadgewer.

Gebed: Here, ek erken U as die bron van alle kennis, wysheid en insig. Ek draai na U as onderwyser en raadgewer in my lewe.

Die ongeletterdes van die toekoms gaan nie meer hulle wees wat nie kan lees nie, maar hulle wat nie wil leer nie. – Alvin Toffler

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.