Gedagte vir die dag: Laat die woorde van my mond….

Eksodus 20:16 – Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.

Mens hoor dikwels dat iemand spottenderwys sê: As iemand vir my môre sê, moet ek eers kyk of die son al op is! Dis omdat ons nie altyd meer weet of en wanneer ons op iemand kan reken nie. Die spreekwoord: Jou woord is jou eer, is nie meer in alle gevalle waar nie. Selfs Jesus se oproep dat ons ja, ‘ja’ moet wees en ons nee, ‘nee’ (Matt 5:37) word gereeld in die wind geslaan.

Eintlik is dit hartseer dat ons geleer het om  niemand te vertrou nie. Want ongelukkig is woorde wat geuiter word, leeg, en wat geskryf of gedruk staan nie die papier waarop dit voorkom, werd nie. In gewone Afrikaans beteken valse getuienis bloot ‘jok’ of ‘lieg’!

Selfs in die howe, waar mense met hulle hand op die Bybel sweer om die waarheid te praat, word meineed daagliks gepleeg. Dís waarskynlik waarna die gebod in die eerste plek verwys: waar my naaste benadeel word in die gewone regspleging. Maar dis maar een voorbeeld. Kom ons bring dit nader aan ons eie lywe:

• Hoeveel blatante onwaarhede word die wêreld ingestuur deur mense wat veronderstel is om vertrou te word?
• In die tuin van Eden is Eva al oortuig om ’n halwe waarheid te glo toe die saadjie van twyfel geplant is.
• Baie van ons het die kuns al vervolmaak om die waarheid so ’n kinkel te gee dat dit geloofwaardig klink – dink maar aan ons gunsteling tydverdryf: skinder!

Hoekom gebeur dit? Gewoonlik om jou eie bas te red, om beter te lyk, of om een of ander ongerymdheid te verdoesel. Elkeen van ons kan maar die prentjie voltooi van jou eie kreatiwiteit om die waarheid tot jou voordeel in te kleur! Selfs die sogenaamde witleuentjie is maar net nog ’n eufemisme (versagtende woord) vir jok.

Maar ons kan net so skuldig wees deur stil te bly wanneer ons behoort te praat. Die deler is mos so goed soos die steler? Ons wil liewer nie betrokke raak nie, omdat dit ons posisie kan kompromitteer. Fluitjieblasers word geviktimiseer, verplaas of ontslaan en is dit voordeliger om te swyg ter wille van eie behoud!

Onthou: daar’s altyd jou weergawe, my weergawe en die waarheid….

Gebed: Hemelse Vader, laat my ‘ja’ vandag ‘ja’ beteken. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.