Gedagte vir die dag: Laat ons met liefde na ander kyk

 Jakobus 2:1 – My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.

Die Bybel leer dat ons nie mense volgens hulle uiterlike voorkoms moet evalueer nie, tog doen ons dit nog gereeld. Mense word gebreinspoel om ander op hulle baadjie te takseer. Die samelewing het ook soms die gewoonte om mense met baie geld en wat sosiale status het, na beter waarde te skat as ander mense. Dinge wat jou uiterlik goed laat lyk is vir die wêreld daarbuite van hoë waarde. Verder is daar ook ʼn geneigdheid om mense wat anders as jy lyk, ander lewensgewoontes as jy het, of minder of meer geld as jy het met vooropgestelde oordeel te hanteer. Dit is ook so dat advertensiewese vir ons wil wysmaak dat sukses slegs van jou uiterlike voorkoms en van jou bankrekening afhang. Die wêreld is so behep met uiterlike skyn dat ons later ʼn tweede natuur ontwikkel om mense op hulle uiterlike te beoordeel.

Die Bybel leer ons uitdruklik dat ons nie met menslike maatstaf mekaar moet beoordeel nie.
2 Korintiërs 5:16,17 –”Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons nie meer so nie, Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

God wil hê dat ons wat aan Christus behoort anders sal wees. Ons moet soos Christus, in mense se harte inkyk. Dat ons na hulle sal kyk met die oë van Jesus se liefde en nie in die eerste plek na hulle uiterlike voorkoms nie. Die wêreld kyk met oë en meet met standaarde wat nie ewigheidswaarde het nie. As jou hart deur Christus vrygemaak is en nuutgemaak is, moet jou oordeel ook nuut wees! Dan sien jy liefde, vreugde, vredeliewendheid, geduld, vriendelikheid, goedheid van hart, getrouheid, lojaliteit, nederigheid, en selfbeheersing raak. Alles dinge wat mense se harte rein en vol liefde maak.

Oefen jouself om met God se liefdesoog na ander mense se kyk

Gebed: Here help my om met U liefdesgesindheid na ander mense te kyk. Help my om mense se hart raak te sien – soos u ook myne raaksien. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.