Gedagte vir die dag: ‘Laat u koninkryk kom’

bid-kerk-ri-ya-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay/ri-ya.com

“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matthéüs 5:8).

Skrifgedeelte
Psalm 122

Oordenking

Dit is vandag Geloftedag. Hierdie dag getuig van God se genadige ingryping ter wille van die bewaring en vermeerdering van sy kerk aan die suidpunt van Afrika. Die Voortrekkers se toekoms was vanweë wrede aanvalle menslik gesproke in die weegskaal. Daar was geen vrede nie. Hulle doen ʼn gelofte en God het hulle wonderlik bewaar. Elke jaar op dié dag kan die Woord van ons Koning helder en duidelik, soos op ʼn Sondag, verkondig word. Hy ontvang ook alleen al die eer.

God leer ons die bede, “Laat u koninkryk kom”, en Hy verhoor dit. Hy bewaar en vermeerder sy kerk. Hy gebruik hierin swak en nietige mense, soos die Voortrekkers, en soos jy wat elke dag getrou jou dienswerk moet verrig. Ons moet ook die vyande van God se koninkryk ken en nie huiwer om teen hulle op te staan nie. Hulle staan in die pad van die naderende koninkryk.

Daar is ook ander gevare soos wêreldgelykvormigheid, vervlakking, verleiding, liefdeloosheid, en so meer. Ons moet gereeld bid dat God ons hiervan sal bewaar en dat daar ware vrede sal wees. Daarom moet ons bid vir vrede onder mekaar en vir mekaar, nie net binne ʼn gemeente nie, maar ook binne kerkverband en wyer. Ja, bid vir vrede binne God se groot koninkryk.

Hoe kan die Christendom getuig van Christus die Vredevors terwyl daar in onvrede onder mekaar geleef word? Die vervulling van hierdie bede sal wees wanneer ons Vredevors weer kom; dan sal al sy vyande vernietig word en al sy kinders as burgers in sy ewige Vrederyk opgeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.