Gedagte vir die dag: Leef in geloof

KruisMatteus 16:24 – Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.

Jesus het besluit dat dit tyd was vir ‘n ernstige gesprek met sy dissipels. Hy neem hulle toe na die streek Sesarea-Filippi vir die openhartige gesprek.

Was die dissipels bewus wat besig was om te gebeur? Wie, sê die mense, is Hy? Wie sê hulle (die dissipels) is Hy? Hierdie was die vrae wat Jesus aan sy dissipels gestel het. Petrus antwoord namens die groep: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Jesus is tevrede met hierdie antwoord en Hy seën Petrus. Die dissipels het geglo (soos die Jode van daardie tyd geglo het) dat wanneer die Messias kom, Hy die beloofde koninkryk in ‘n fisiese vorm sou vestig en dat hulle volk die wêreld sou regeer.

Jesus verduidelik toe aan sy dissipels dat die beloofde koninkryk wel sou kom, maar dat Hy eers doodgemaak moet word. Maar op die derde dag sou Hy uit die dood opgewek word.

Die dissipels staan verslae. Petrus neem Jesus eenkant om Hom te berispe. Stel jou voor! Jesus draai na Petrus toe en sê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Matteus 16:23

Petrus het nie verwag dat hy binne oomblikke, soos die Engelse sê van ‘hero tot zero’ sou gaan nie. Maar Jesus was besig om sy dissipels te leer wat dit beteken om werklik in geloof te leef. Dit is nie ‘n rit op die soustrein nie, maar dit is ‘n lewe waar ‘n mens jouself moet verloën en dikwels ter wille van Jesus swaarkry moet verduur. Jesus nooi ons uit om ons kruis op te neem en Hom te volg.

Is jy gewillig om dié uitnodiging te aanvaar? Dit is die enigste weg na die ewige lewe en na sy koninkryk.

Gebed: Heilige Gees help my om ‘n lewe van geloof en toewyding te leef, sodat wanneer die Seun kom om die wêreld te oordeel, my Here en Verlosser my sal aanvaar. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.