Gedagte vir die dag: Leef met ʼn dankbare hart

Psalm 89:2 – Ek sal altyd liedere sing oor die Here wat so goed is vir my omdat Hy my liefhet. Ek sal vir almal wil vertel dat ʼn mens U altyd kan vertrou.

Ons neem so baie dinge as vanselfsprekend. As ons iets goeds of moois ontvang, dink ons baie keer dit is ons reg of ons verdien dit. Mense wat so leef, is ook baie bewus daarvan as hulle iets misloop en het ook die geneigdheid om net nog meer en meer te wil hê. In hulle koppe en harte verdien hulle dit mos. Daar is ʼn ander ingesteldheid waarmee ʼn mens kan leef wat jou eie lewe en die van almal om jou baie verryk. Dit is om te leef met ʼn ingesteldheid van dankbaarheid. Dit is om te leef met ʼn fokus op wat jy het eerder as dit wat jy nie het nie. Dan waardeer ʼn mens klein dingetjies in die lewe. Dan is jy ʼn tevrede mens wat oorloop van dankbaarheid. Daardie dankbaarheid in jou hart spoel oor na ander mense en verryk alles en almal om jou. Hoe spesiaal is die Here se liefde vir jou? Raak dit jou nog diep as jy dink wie jy werklik is en dat Hy jou ten spyte daarvan lief het – onvoorwaardelik en innig? Loop jy oor van dankbaarheid as jy daaraan dink dat Jesus in jou plek aan die kruis gesterf het en vir jou ʼn nuwe lewe verseker het? Raak jy opnuut dankbaar vir God se liefde en glimlag oor dy goedheid en guns.

As daar geen God was nie, sou ons ʼn dankbare hart in hierdie wonderlike wêreld gehad het, sonder om te weet vir wie om dankie te sê. – Christina Rossetti

Gebed: Here, vergewe my dat ek so gereeld ontevrede en ongelukkig is. Vandag loop my hart oor van dankbaarheid omdat U my onvoorwaardelik lief het. Dankie, Here!

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.