Gedagte vir die dag: Leef opreg voor die Here

Psalm 101:2 – Ek wil probeer leef soos U wil hê. Wanneer kom U na my toe? Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees.

Daar is min dinge in die lewe wat my so afsit soos mense wat vriendelik voor jou is en dan agter jou rug sleg van jou praat of van jou skinder. Dit is nou alles behalwe opreg. Dit is nou voorgee soos min. Die enigste probleem is dat ek ook soms onopreg leef en ook soms voor mense anders is as wat ek byvoorbeeld by die huis is. Ja, baie keer het mense ʼn sekere beeld van jou, want jy sit jou heel beste voetjie voor. As hulle hul rûe draai, is jy ʼn ander mens. Dit is mos nie opreg en eerlik nie. Dit is verseker nie om te leef met integriteit nie. God wil hê dat ons opreg moet leef. Ons moet voor mense en by die huis dieselfde wees. Daar waar niemand ons sien nie, sien God ons wel, en ons moet opreg en eerlik voor Hom wees. Te veel mense sit hul beste voetjie voor as hulle by mense is. Die oomblik wat hulle egter hul rug draai, is hulle aaklig met mense, lelik met hulle huweliksmaats, kwaai en ongeskik met hulle kinders en verander amper van persoonlikheid. God wil hê dat jy juis by jou huis so moet leef dat Hy daarop trots kan wees.

Hy wat ʼn reguit pad loop, struikel nie maklik nie. – Leonardo da Vinci

Gebed: Here, ek nooi U na my huis toe. Ek wil ook daar waar baie min mense my sien tot u eer en verheerliking leef.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.