Gedagte vir die dag: Leer by ‘n heidenvrou

“Jesus antwoord: ‘Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.’ Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: ‘Here, help my!’” Matt. 15:24-25

Stel jou voor jy bevind jou in hierdie vrou se posisie, hierdie heidenvrou van Tirus. Daar is ʼn groot smart in jou huis – jou dogter is erg onder die invloed van ’n bose gees. Jy het van Jesus gehoor; dat Hy graag genade betoon en wonders doen vir mense in nood. Jy hoor dat Hy in jou stad is en jy gaan soek Hom. Wanneer jy Hom vind, roep jy gelowig na Hom en bely dat Hy die Messias is, maar dan ignoreer Hy jou. Hy antwoord jou nie eens nie. Dan raak jy lastig in die oë van sy dissipels en hulle vra Hom om jou weg te stuur. Sy antwoord is ontmoedigend. Hy sê dat Hy nie vir heidene, vir mense soos jy, gekom het nie, maar net vir die uitverkore volk, die Jode.

Hoeveel van ons sou daarna steeds bly aanhou om te vra? Wie sou dan nog aanhou bid en glo het? Hierdie vrou het! Ons kan aflei dat Jesus hierdie “verskoning” – dat sy bediening tot die Jode beperk was – net gebruik het om aan sy dissipels en aan ons almal te wys wat ware geloof is, volhardende geloof, geloof wat nie moed opgee nie. Hy wou ons ook wys hoe ʼn mens moet optree wanneer jou gebed oënskynlik nie dadelik beantwoord word nie.

Dalk meen jy dat ʼn mens net een maal vir die Here moet vra wanneer jy in geloof bid en dat dit eintlik ʼn teken van ongeloof is om meer as een keer te vra. Nadat jy gevra het, moet jy net in die geloof dankie sê. Hierdie vrou was egter nie bewus van hierdie opvatting nie. Sy het geweier om deur enigiets of enigiemand afgesit te word. Sy het aangehou … Leer by haar.

Gebed: “Here, ek skep moed en wil met nuwe vasberadenheid my versugtinge na U toe bring. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.