Gedagte vir die dag: Leer om te lewe

shutterstock_69696070-man-with-open-arms-705x335Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe (Deut 5:1).

“Dit is eenvoudig wonderlik hoe dramaties my lewe verander het sedert ek begin het om die Skrif te memoriseer,” vertel ‘n lidmaat. “My gebedslewe het eenvoudig in ‘n ander rat oorgeskakel, en ek kon versoekings al hoe beter hanteer. Die Bybel is die geestelike kos wat ek nodig het om geestelik te groei.”

Sy was natuurlik heeltemal reg. Die Here Jesus het vir ons die voorbeeld gestel: Toe die duiwel Hom versoek het, het Hy hom met Skrifaanhalings getroef (Matt 4:1- 11).  As Hy nie die Skrif gememoriseer het nie, sou Hy dit nie kon doen nie, want ‘n mens dra nie die Tora saam met jou in die woestyn nie.

Moses het ook hierdie geheim geken. Waar hy dus in hierdie hoofstuk die volk wil herinner aan wat die Wet van God se, begin hy om die volk te beveel om alles wat hulle nou gaan hoor, te leer. Dit moet nie net by een oor in- en die ander uitgaan nie. Wat hulle nou gaan hoor, gaan hulle elke dag nodig kry, want versoekings kom elke dag in baie vorms na ons toe.

Ek wil jou dus vandag uitdaag om God se raad te volg. Begin om elke dag minstens een belangrike vers te memoriseer. Kyk maar watter verse jy in jou Bybel onderstreep het. Jy kan dit op klein kaartjies soos visitekaartjies oorskryf, met die bewysplaas op die agterkant. As jy so ‘n pakkie in jou sak hou, is dit die wonderlikste manier am daardie lang ure in die toue by staatsdepartemente of in wagkamers sinvol te gebruik. Leer dit, gehoorsaam dit en lewe daarvolgens!

Gebed:  Here, help my am u Woord in my hart te bêre. Help my dan om daarvolgens te lewe.

Lees vanaand in Deuteronomium 5:6-15 die eerste vier van die Tien Gebooie, wat handel oor ons liefde vir God.

Bron: Uit die Beek,2012- Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Terblanche ·

Ek hou van die idee om die woord van God so te versprei. Ek is verskriklik lief vir my God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.