Gedagte vir die dag: Lees die Boodskap met hulle vingers

Johannes 8:12
Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Daar is ongeveer 300 miljoen mense in die wêreld wat óf blind is óf so swaksiende dat hulle nie kan lees nie. Hulle leef in verskeie grade van donkerte. Diegene wat braille bemeester het, is wel in staat om met die hulp van hulle vingers te lees.

Braille is nie ‘n taal nie, maar ‘n skrif waar letters gevorm word deur verhewe kolletjies op die papier. Elke letter word gevorm deur ‘n rangskikking van een tot ses verhewe kolletjies en die braille word gelees deurdat die leser sy vingers oor die letters beweeg. Die stelsel is vernoem na die uitvinder, Louis Braille (1809-1852), wat op driejarige ouderdom op ‘n tragiese manier blind geword het.

Op 21 Oktober 1941 is die eerste Braillebybel in Afrikaans gepubliseer. ‘n Groot genade as ‘n mens in ag neem dat daar op daardie stadium slegs Braillebybels in Engels, Duits en Frans beskikbaar was. Vandag beskik slegs 35 van die wêreld se ongeveer 6 600 tale oor ‘n volledige Bybel.

Die produksiekoste van ‘n volledige Braillebybel is sowat 60 keer meer as dié van ‘n gewone gedrukte Bybel. Die Braillebybel beslaan ook ongeveer 41 volumes. Ons dank die Here dat die Bybel ook in klankweergawes (CD, MP3) beskikbaar is.

Dit is egter nie die formaat wat die belangrikste is nie, maar wel die boodskap wat dit deur die krag van die Heilige Gees oordra. Slegs die Heilige Gees kan werk in die hart van iemand wat soekend is sodat die persoon die Lig vir die wêreld kan leer ken. Om dié boodskap uit te dra, is ons as Christene se verantwoordelikheid. Dit is die taak van elke gelowige om sy geloof deur woord en daad met ander te deel. Ons is geroep om wegwysers te wees wat vir ander die rigting na die Lig vir die wêreld aandui.

Is jy ‘n padwyser om vir ander die pad na ons Here Jesus Christus aan te dui?

Gebed: Here Jesus ek wil een van u padwysers wees sodat ander die Lig vir die wêreld kan leer ken. Skenk aan my die genade en die nodige selfvertroue om my geloof met ander te kan deel. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.