Gedagte vir die dag: Lewe moet ’n lied wees

Eksodus 20:13 – Jy mag nie moord pleeg nie.

As lewe ’n gawe van die Here is en dit gekoester moet word, kan dit nie sommer goedsmoeds weggevat of beëindig word nie. Want dan probeer mens God speel.

Moord is die wederregtelike wegneem van iemand se lewe en kans om God te lowe. En tog is dit aan die orde van die dag: ons sien dit op TV, ons lees daarvan in die koerante, baie van ons was al ooggetuies van sulke insidente en selfs van ons geliefdes is al op so ʼn sinnelose manier van ons weggeneem. Lewe het goedkoop geword. Min werd. Die waarde van ’n selfoon, ʼn skootrekenaar, ’n voertuig.

Dalk het ons so selfgesentreerd geraak dat elkeen se eie lewe, gerief en behoeftes die norm geword het. Dis elkeen vir homself, en wie ook al in die pad kom, moet geëlimineer word. Dis die boodskap wat menige fliek of TV-program verkondig. Dood is nie meer dood nie, want karakters ‘sterf’ in een verhaal, maar is weer springlewendig in ’n volgende.

Moord is ook nie net die fisiese beëindiging van iemand se lewe nie. Jesus se uitspraak in die sogenaamde Bergrede het mense se gesindheid en houding teenoor ander onder hierdie gebod tuisgebring. Heers liefde of haat in jou lewe, bevorder jy ander se welsyn, of raak dit vir jou ’n bedreiging? Is jou woorde teenoor ander opbouend of snedig, hef jy ander op, of kraak jy hulle af, bou jy ander se selfwaarde, of krenk jy hulle?

Per slot van rekening is die vraag of ons die  beginsel uitlewe dat elkeen ’n plekkie in die son mag hê. Of ons hulle lewensruimte vergroot of verklein. Want as dit waar sou wees dat ons elkeen die son gun wat oor hulle skyn, sal daar minder vertrapping van mense – van weerloses – in ons samelewing wees. Minder verbale, fisiese en emosionele mishandeling, minder uitbuiting en verwaarlosing. Minder ‘wrakke’ wat langs ons lewenspad gesaai lê. Waaraan ons selfs deel gehad het, of dalk net stilswyend toegekyk het.

Hoeveel karaktermoord vind nie daagliks plaas wanneer mense verguis word ter wille van sensasie nie?

Gebed: Hemelvader, plaas asseblief ’n wag voor my mond dat ek niemand verguis deur my woorde nie. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.