Gedagte vir die dag: Lewensvreugde is om met hoop te leef

Romeine 5:4-5 – en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Daar is mense wat by hulself wonder hoe kan hulle hoop hê, terwyl hulself met soveel krisisse en beproewings worstel. Al wat hulle sien is die teëspoed en beproewings wat hulle ervaar. Hulle weet nie hoe om meer te hoop nie. Die skrywer van Romeine het hierdie vraag verstaan, want hy verduidelik hoop nie as iets wat maklik kom nie. Hier word hoop gesien as ʼn geloofsgewoonte wat op ʼn mens groei. Dit groei deurdat die gelowige deur al sy beproewings geloof behou en aan God vashou, al gaan dit hoe sleg met hom. Hier staan: Hoe meer jy volhardend (aanhou) glo, hoe sterker word jou geloof en hoe sterker jou geloof word – hoe sterker word jou hoop. So dit is eers as jy ten spyte van jou beproewings, aanhoudend en volhardend glo, wat die hoop in jou lewe sterker word. Vers 5 sê: ”As jy eers hoop het, dan is daar niks wat jou keer nie, want die hoop beskaam nie.”

Wat doen hoop aan jou? Die hoop op God beskaam nooit, want al God se beloftes voer Hy uit. 2 Korintiërs 1:20 leer ons dat Jesus Christus is die ja op al die beloftes van God.

Hoop is die beloning van volhardende geloof. Al word jou beproewings nie minder nie, gee hoop jou ʼn nuwe lewensuitsig. Die boodskap van Hoop dat Jesus opgestaan het moet jou iemand maak wat met ʼn doel vir Hom leef. Hierdie lewe met al sy beproewings is nie die finale lewe nie! Hoop gee gelowiges ʼn lewensvreugde wat ander nie verstaan nie. Jy leer om met ander oë na jou eie beproewings te kyk, en vir Jesus raak te sien. Hoop gee jou lewensvreugde omdat Jesus in jou bly.

Mag jy deur al die beproewings waardeur jy gaan, aanhou glo en nooit moed opgee nie. Dan sal die hoop in jou groei want die hoop op Jesus Christus beskaam nie, Hy het opgestaan uit die dood!

Gebed: Here help my om elke dag meer en meer te glo sodat my hoop sterk sal word. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.