Gedagte vir die dag: Liefde teenoor jou familie

Efesiërs 4:32 – Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook vergewe het.

Ek dink die grootste toets vir jou bereidwilligheid om God te dien en aan Hom gehoorsaam te wees, is baie keer binne jou gesins-/familieverband. Die gesin en familie is dikwels die omgewing waar ons die Christelike beginsels die moeilikste uitleef. Miskien omdat dit die plek is waar ander jou so goed ken. Miskien is dit omdat dit die omgewing is waar al jou maskers afkom en jy is soos jy is. Soms is dit ook moeilik omdat jou mede- familielede dit nie altyd vir jou maklik maak nie. Jou gesin en familie is die oefenveld vir die wedstryd wat jy elke dag speel. As jy nie daar slaag om in opregte selfopofferende lief te leef nie, gaan jy dit moeilik regkry in die wêreld daarbuite. Daar in die binnekring, waar ander nie altyd kan sien nie, dit is waar die egtheid van ons hart getoets word.

Jy moet dus in jou gesins-/familieverband die gesindheid uitleef soos Paulus dit in Efesiërs 4 vra: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar”. Dit beteken jy moet moeite doen om ander tegemoet te kom en uit die hart te probeer om goed te doen aan mekaar. Moenie net aan jou eie behoeftes dink nie. Mense vergeet dikwels dat hulle nie net vir hulself daar is nie, maar vir mekaar, daarom behoort eie behoeftes nie eerste te kom nie! Elkeen moet spesiale moeite doen om in sy/haar familieverband hul naasteliefde uit te leef.

Verder vra Paulus dat ons mekaar moet vergewe soos God ons vergewe het. Miskien is dit die kern van familielede se liefde vir mekaar – Om mekaar te vergewe en om in vrede en harmonie met mekaar saam te leef.

Soms is dit moeilik, maar die Here vra hierdie tipe liefde van elke gelowige. Jy moet jou naaste liefhê en onthou voordurend dat daar niemand nader aan jou, as jou huweliksmaat, jou kinders, broer en suster of jou ouers is nie. Naasteliefde begin by hulle.

Gebed: Here help my om U liefde binne my gesinsverband uit te leef. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.