Gedagte vir die dag: Liefde wat nie opgee nie

holding handsHos 3:5 – Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.

“Die kinders se ma,” is die naam wat ‘n vriend van my gebruik as hy van sy eerste vrou praat. Hy was platgeslaan toe sy hom en die kinders verlaat. Hy het so seergekry dat hy nie eens meer haar naam wil noem nie. Hy kan verstaan hoe Hosea gevoel het toe Gomer hom verlaat het vir ‘n lewe van prostitusie.
Kan so ‘n verwoeste huwelik weer herstel word? Die Here beveel Hosea om weer in liefde na Gomer te gaan. Sy word hier nie sy vrou genoem nie, maar sommer ‘n vrou. Daar was nie meer respek vir haar nie. Sy was ‘n naamlose seksslaaf. Maar Hosea het haar gaan loskoop teen die helfte van ‘n slavin se gewone prys (Hos 3:2). Sy was beskadigde goedere. Dit sou ‘n lang tyd neem om weer mekaar se vertroue te wen, maar Hosea moes haar weer die hof maak (v 3). Dit was ‘n voorbeeld van hoe die Here met sy volk werk. Hulle land sal verwoes word. Hulle konings en afgode sal verdwyn. Eers dan sal hulle weer na die Here terugkom. Die mense van die noordelike ryk het nooit weer teruggekom nie, maar baie van hulle het na Juda gevlug en so weer by die Here uitgekom.
Soos die vader van die verlore seun wag die Here dat sy afgedwaalde kinders na Hom toe terugkom. Hy wil weer vir hulle die oorvloed skenk uit sy groot liefde. Hy reik in liefde uit na elkeen wat verlore gaan. Kom terug!

Gebed: “Here, dankie vir u oneindige liefde. Ek kom terug na U toe, net soos ek is. Vergewe my en verander my.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dolk ·

Baie dankie vir die pragtige en waardevolle Boodskap! Mag die Here elke boodskap ryklik seën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.