Gedagte vir die dag: Liefde is….

Eksodus 20:14– Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Die hele saak rondom verhoudings en liefde sal seker altyd ’n misterie, ’n raaisel bly. Hoewel die Bybel baie hieroor praat, is dit iets wat nie maklik verklaar kan word nie. Hoekom voel een mens nou aangetrokke tot ’n ander? Waarom verkies sommige om alleen deur die lewe te gaan, smag ander na ʼn maat, terwyl menige ander enigiets sou doen om uit ʼn ongelukkige verhouding te ontsnap.

Die huwelik is meesal ʼn persoonlike keuse. Mense kies om in die eg verbind te word. Hierdie keuse impliseer wedersydse verantwoordelikhede teenoor mekaar. En tog lees ons daagliks van owerspel, egskeidings en liefdesdriehoeke. Op baie maniere word die huwelik belaglik en bespotlik gemaak. Hoort dit op die lys van bedreigde spesies? Is dit regtig die eerste stap tot ʼn egskeiding? Of kan dit ook iets baie besonders wees?

As Paulus in Efesiërs Jesus se verhouding met sy bruid, die kerk, as model vir verhoudings voorhou, moet dit tog spesiaal wees, nie waar nie? Toe God ʼn maat vir Adam gemaak het, was die bedoeling dat hulle mekaar moes aanvul om saam tot sy eer te lewe. In die Ou Testament was dit ook nie net individue wat aan mekaar verbind is nie, maar families.

Dalk het die manier waarop liefde deesdae uitgebeeld en gepropageer word, iets te make met al die liefdeloosheid: dis eie behoeftes, drange en begeertes wat vooropstaan. Dis eiebelang wat prioriteit geword het. As dit nie (meer) in ʼn verhouding bevredig word nie, word daar bloot ‘aanbeweeg’. Egbreuk is juis dit: om uit te breek uit ʼn bestaande verhouding (met al die implikasies daaraan verbonde), of om in te breek en te steel wat eie aan die aard van die huwelik behoort te wees – om jouself al die regte en voorregte daarvan toe te eien.

Dis hartseer om te sien hoeveel gebroke gesinne, kinders, mense vandag in ons samelewing aangetref word as gevolg van die keuses wat ander mense gemaak het. Enkelouergesinne wat die mas moet opkom. Dis net so erg om mense te sien ‘saamleef’, alhoewel hulle eintlik lankal innerlik vervreemd van mekaar geraak het.

As iets van die Here se liefde tog net weer wil neerslag vind in ons verhoudings en huwelike…. Môre praat ons daaroor.

Gebed: Here, help my om iets van u liefde uit te leef vandag. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.