Gedagte vir die dag: Lojaliteit ’n prioriteit

Eksodus 20:5-6
…. Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Mens hoor vandag dikwels van iemand wat ʼn uitnodiging na ʼn funksie aanvaar het, maar nie opdaag nie. Die rede? Iets belangriker of interessanter het opgeduik! Lojaliteit is nie ʼn prioriteit nie. Dit word deur die situasie bepaal. Ons word ingesuig deur die sogenaamde verbruikersmentaliteit.

Dis ook nie ʼn vreemde begrip in die geloofsomgewing nie. Mense dien en volg die Here solank daar nie iets beters kop uitsteek nie. Geloof is een opsie tussen baie, afhangend van waar die grootste voordeel lê. Die feit dat geloof baie keer ʼn langtermyn verbintenis is, pas nie mooi in by die post-modernistiese mentaliteit van onmiddellike bevrediging van behoeftes nie.

Vir die Here is onverdeelde trou ononderhandelbaar. Die ou vertaling het gesê dat die Here ʼn jaloerse God is. Hy is in die mooi sin jaloers op sy eiendom. Hy deel nie. Hy speel nie tweede viool nie. Hy is nie tevrede met halfhartigheid nie. En omdat dit Hy is wat sy volk uit Egipte verlos het, wil Hy volkome aanspraak maak op hulle liefde en trou.

Daar’s ʼn waarskuwing: wie probeer om op twee stoele gelyk te sit, kry te doene met die Here se ‘straf’-kant – self vir vier geslagte lank. Hy sien nie sonde so sito-sito oor nie. Dis ʼn beginselsaak. Sonde het altyd gevolge…

Maar hier is ook ʼn belofte: liefde en al die mooi dinge vir die gehoorsames – ook vir geslagte. Maar waar Hy net tot by vier kan tel wanneer dit by sonde en straf kom, tel Hy in duisende waar die liefde en trou ter sprake is.

Dis juis wat Jesus ‘Christus, wat die beeld van God is’ 2 Korintiërs 4:4) vir ons kom leer het deur sy lewe, sodat ons ook as beelddraers van God kan lewe.

Gebed: Hemelse Vader, ek wil U vandag met my hele hart dien. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.