Gedagte vir die dag: Loof die Naam van die Here

Psalm 113:2 – Die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd.

Daar is een rede vir alles; daar is een doel vir ons bestaan – en dit is die eer van God!

Die wêreld en tyd waarin ons, ons bevind het ʼn ander ingesteldheid – alles is op die mens gefokus. Alles het ten doel om die mens te vermaak. Alles word ontwerp en op die rak gesit vir die mens se gerief. Die mens raak as’t ware ʼn god in die kleine – die middelpunt in ʼn wêreld waar alles oor hom handel en op hom ingestel is.

En dis juis die probleem waarmee die gelowige te kampe het: ons staan midde in hierdie wêreld wat soos een man die koers weg van God wys en aan die mens verkondig hoe belangrik hyself is.

In daardie opsig is die natuur – net soos die mens ook skepping van God – vir ons ʼn groot voorbeeld. Luister maar as jy vroegoggend jou vensters oopmaak hoe dit weerklink van die voëls se oggendlofliedere – veral noudat die somer weer hier is! Dis amper asof hulle nie anders kan nie!

Die Psalmdigter spoor ons vandag weer aan om eer aan God te bring: “Die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd”. Twee Psalms verder skryf hy: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys ” Psalm 115:1

Bring vandag die lof en eer aan God in alles wat jy dink, sê en doen. Rig jou gedagtes daarop dat God die eer moet kry, dat Hy die Een is waaroor alles gaan. Dit is die rede van ons bestaan.

Die bekende skrywer CS Lewis het geskryf dat lof aan God seker die enigste van ons aktiwiteite hier op aarde is wat onveranderd in die hemel voortgesit kan word.

Gebed: Almagtige, wonderlike God, aan U kom alle eer toe. Ek wil vandag my gedagtes, my woorde en my dade op U rig. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.