Gedagte vir die dag: Los uit…

Eksodus 20:15– Jy mag nie steel nie.

Om te steel, is om te vat wat nie regmatig joune is nie, of te weerhou wat ander toekom. Ons beleef ʼn hoogbloei van korrupsie, wanbesteding en diefstal wat met allerhande mooi naampies verdoesel of goedgepraat word deur te verwys na ‘agterstande’ wat sogenaamd ingehaal moet word.

Ons ken almal – of was dalk al die slagoffers van – blatante vorms van diefstal. Maar daar is baie meer subtiele vorme waaraan ons daagliks blootgestel word:

• As jy vat wat jou nie toekom nie
Dink maar aan hoe ons ons belastingopgawes voltooi deur hier en daar ietsie uit te laat. Dink aan tyd wat verlore gaan weens laat kom by die werk en vroeg loop. Hoeveel langer tye spandeer ons aan tee- en etenstye (en selfs rooktye) as wat vergun word. Word die telefoon en drukker by die werk net vir werksdoeleindes gebruik, of word persoonlike sake (en skooltake) nie maar êrens ingedruk nie? Hoeveel skryfbehoeftes wat deur werkgewers aangekoop word, kan nie nagespeur word in ons kinders se pennesakkies nie….?

• As jy weerhou wat ander toekom
Dink hier aan die tyd, aandag en energie wat ons aan ons gesinne en huweliksmaats verskuldig is, wat deur ander dinge opgeslurp word. Vra jouself af of jy regtig ʼn dag se werk ‘insit’ om jou vergoeding aan die einde van die maand te ontvang. Word alle werknemers na behore vergoed vir wat hulle doen, of kry baie ʼn hongerloon? Ons kan, as landsburgers, baie kla en kritiseer, maar leef ons ons regte en verantwoordelikhede ten volle uit?

As jy ʼn verkeerde ingesteldheid het
Hoe gaan ons met die skepping om? Put ons die hulpbronne uit sonder om daaraan te dink dat ons die nageslag te na kom nie. Sien ons die natuur rondom ons as ʼn erfenis wat bewaar moet word, of kap ons af en roei uit sonder besorgdheid oor instandhouding? Val die klem rêrig eensydig op menseregte, waar baie net wil ontvang asof dit ʼn skuld is wat afbetaal moet word, of moet menslike verantwoordelikheid ook ʼn rol begin speel?

Gebed: Here, dankie vir wat ek het. Maak my tevrede daarmee. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.