Gedagte vir die dag: Maak die beste gebruik van jou tyd

tydJob 14:1 – Die mens, uit ‘n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.

Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Efesiërs 5:15-16

Kan julle nog onthou hoe stadig tyd verbygegaan het toe ons nog kinders was? Naweke het vir ewig geneem om aan te breek, en van skoolvakansies, Kersfees, verjaarsdae en partytjies praat ek nie eers nie. Hoe het ons nie in ons begeerte om groot te word, die tyd verby gewens nie.

En toe in ons jare as jong volwassenes het die pas ‘n bietjie versnel. Ewe skielik was daar nie genoeg tyd om dit wat vir ons belangrik was, te doen nie.

Hoe ouer ons word hoe meer bewus word ons van tyd. Skielik is ons baie bewus dat indien ons tyd mors, ons ook ons geleenthede en ons drome vermors. Victor Hugo, die beroemde Franse skrywer wat onder andere “Les Miserables” geskryf het, sê: “Die lewe is kort, en ons maak dit nog korter deur die onverskillige manier hoe ons tyd vermors.”

Hoe kan ons ons tyd die beste bestee? Jesus leer ons dat ons op dit wat saak maak moet fokus. “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Matteus 6:33-34

Ons moet ons prioriteite bepaal en ook hoeveel tyd ons aan elkeen moet spandeer. Dan moet ons ook die dissipline aan die dag lê om deur goeie beplanning by ons tydrooster te hou.

God het aan ons verskillende talente gegee, maar ons het een gawe in gemeen – die gawe van tyd. Jesus was baie bewus van hoe ons ons tyd moet gebruik. “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.” Johannes 9:4

Ons moet die gawe van tyd wat ons van God ontvang het, tot eer van die Here gebruik. Mag God aan ons die genade skenk om dit te doen.

Gebed: Almagtige God, skenk aan ons die wysheid om ons tyd tot u eer te kan gebruik. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.