Gedagte vir die dag: Maar…

praying-in-success2 Kon 10:31 – Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie.

“Een van die bewyse van die egtheid van die Bybel is dat nie een van die helde volmaak is nie,” skryf ‘n Skrifkenner. Elkeen word geteken met sy sterk punte en sy swakhede. In die buite-Bybelse bronne van daardie tyd word niks slegs van die helde geskryf nie. Elkeen word as volmaak geteken.

As Jehu in ons tyd geleef het, sou die koerante hom seker uitmekaar getrek en beswadder het. Hulle sou min goeds in hom kon vind. So ‘n bloeddorstige man! Maar God het anders na hom gekyk. God sê dat hy gedoen het wat goed en reg was in sy oë (2 Kon 10:30). Sy nageslag sou vier geslagte lank regeer. En dan kom die “maar”. Vir die skrywer van hierdie Bybelboek was dit ‘n groot probleem dat die afgodsbeelde wat Jerobeam laat maak het, nog steeds daar was. Hulle het die Israeliete uit die tempel gehou. Dit tel teen Jehu. Nogtans het hy 28 jaar lank regeer.

Ook ons helde het voete van klei. Jan van Riebeeck het ook maar sy foute gehad. Hy was nie regtig so vroom nie. Die Voortrekkers was ‘n klomp moeilike dwarstrekkers. Die politieke leiers wat die hele volk agter hulle aan laat gaan het, word vandag as die varke in die verhaal geteken. Mense wat eens as gevaarlike terroriste gesien is, het later die land regeer, net soos Jehu. Ons is elkeen so seker van ons standpunt. Ons weet wat reg en wat verkeerd is. Maar miskien sal die geskiedenis eendag bewys dat ons verkeerd was. Ja, ons verdien niks wat goed is nie, maar die genade van God is groot. Hy red ons sonder dat ons dit verdien!

Gebed: “Here, dankie dat U ook vir my genade het.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.