Gedagte vir die dag: Met jou hele hart

hart2 Kron 16:9 – Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.

“As jy by Tete met die brug oor die rivier gaan, kan jy feitlik seker wees dat jy ‘n verkeersboete gaan kry. Een toeris is beboet omdat hy te vinnig gery het, en die volgende omdat hy te stadig gery het. Een is beboet omdat hy in die skaduwee van die landsvlag geparkeer het. ‘n Ander omdat hy met ‘n sonbril op bestuur het, terwyl sy lisensie hom sonder ‘n bril wys,” vertel ‘n vriend wat gereeld daardie pad moet ry. Korrupsie is algemeen in Afrika, want dit is die polisie se inkomste.

Die Here het Ganani na koning Asa gestuur om hom te wys hoe dom dit was om sy probleem deur korrupsie te probeer oplos. Dit het wel tydelik na ‘n oplossing gelyk, maar die uiteinde was dat Ben-Hadad nie verslaan is nie, en uiteindelik ook vir Juda sou aanval. Die langtermyngevolg was dat Asa in die toekoms oorlog sou hê. Die alternatief was om volledig op die Here te vertrou, en deur God se krag ‘n oënskynlik onmoontlike oorwinning oor Baesa en Ben-Hadad te behaal. In ‘n tyd waar korrupsie algemeen geword het, is dit ‘n groot versoeking om die probleem vinnig uit die weg te ruim deur ‘n bedrag onder die tafel deur te gee. Die langtermyngevolge is egter baie erger, en kan jou selfs in die tronk laat beland. Onthou dus dat die Here se oë orals is. Hy sien nie alleen as ons verkeerd doen nie, maar ook as ons met ons hele hart op Hom vertrou. Hy belowe om sulke mense te help.

Gebed: Here, bewaar ons van die lokval van korrupsie. Ons wil met ons hele hart op U alleen vertrou.

Bron: Uit die Beek –Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.