Gedagte vir die dag: Mirre, aalwyn en kaneel – die geur van die Koning

Psalm 45:7-9
U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas,
met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied
U het die reg lief en u haat die onreg,
want, verhewe wese,
onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.
Die geur van mirre, aalwyn en kaneel
deurtrek al u klere;
musiek uit u ivoorversierde paleis
maak u bly.

Hierdie Psalm het ‘n inleiding waar ons meer inligting oor die lied vind. Ons lees in vers 1 dat Psalm 45 ‘n lied van die liefde is. Dit is ‘n huwelikslied vir die koning. Die Psalm vertel ons nie wie die koning is nie, maar sommige kommentare sê dit was heel moontlik koning Salomo. Lees ‘n mens egter die Psalm deur, besef jy gou dat hierdie gedig na meer as ‘n aardse koning verwys en wel na die ewige koning Koning Jesus.

Mirre-olie was baie belangrik in bybelse tye. Dit was ‘n duur olie wat van die mirreboom bekom is deur die bas te sny. Die gomagtige harpuis skei ‘n ligte geel vloeistof af wat gedroog word en dan rooibruin klonte so groot soos ‘n okkerneut vorm. Die olie word daarvan gedistilleer. In die tyd van Ester het toekomstige koninginne ‘n jaar se voorbereiding ondergaan voordat hulle gekroon is (Ester 2:12) wat ‘n ses maande behandeling met mirre-olie ingesluit het.

Die sterrekykers het vir Jesus mirre gebring toe hy gebore is (Matteus 2:11). Aan die kruis wou hulle vir Hom wyn gee met mirre in (Markus 15:23-24). Sy doodskleed was doeke en sy liggaam is met geurolie, ‘n mengsel van mirre en aalwyn, behandel (Johannes 19:39-40).

Neem ons al hierdie dinge in ag, kry ons ‘n mooi prentjie van ons Koning Jesus, die bruidegom wat sy bruid kom haal. Sy klere is deurtrek met die geur van mirre, aalwyn en kaneel – simbole van sy menslike geboorte, sy dood en begrafnis wat noodsaaklik was voordat Hy die Satan kon oorwin. En ons, die Kerk, is die bruid van die Koning! Hy is die Vriend in wie ons veilig is en die ewige oorwinning behaal het. Sy troon sal tot in alle ewigheid bestaan. As die onderwerp van sy liefde, hoef ons nooit bang te wees nie. Wie kan so ‘n bruidegom weier?!.

Gebed: Here, U is geklee met prag en majesteit ver bo die van ‘n aardse koning, self bo koning Salomo. Soos die Psalmdigter wil ek U grootheid besing en die nasies sal U loof tot in ewigheid. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.