Gedagte vir die dag: Moed

Boekevat_Tuin_Foto_Juanita_Geyer

Foto: Juanita Geyer

Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie. (Deut 31:8)

Wanneer Josua aangestel word as Moses se opvolger het Moses vir hom ’n pragtige belofte: Daar is geen rede waarom hy ooit moedeloos of bang hoef te wees nie. God self sal voor hom uitgaan en by Hom wees. Hy sal hom nooit in die steek laat óf alleen laat nie. “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is. Ek maak die moedelose weer vol moed,” belowe God sy volk wat in ballingskap weggevoer is – ’n tyd toe Israel se moed ’n laagtepunt bereik het (Jer. 31:25).

Ek en jy het vandag steeds dieselfde belofte om op staat te maak, alhoewel daar tans nogal baie redes is waarom Suid-Afrikaners dalk moed verloor. As ons die media dophou, na die televisienuus kyk of ons eie situasie in oënskou neem, lyk dit asof daar nooit weer ’n einde aan die heersende spiraal van geweld en misdaad sal kom nie. Tog mag God se kinders nie moed opgee nie, vir die eenvoudige rede dat God bý ons is; dat Hyself onderneem om vir ons nuwe moed te gee.

As jy jou ooit weer op moedverloor se vlakte bevind, onthou gerus die mooi belofte wat in Jesaja 35:4 opgeteken is: “Sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier!’”

Hemelse Vader, dankie vir die belofte dat U die moedelose weer vol moed sal maak. Doen dit asseblief vandag vir my. Amen

Lees Deuteronomium 31:1-8 19 Oktober

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries Kemp ·

Hierdie is so waar en ek en my vrou, Esta het dit nou so nodig! Baie dankie! My geloof is nou op n baie laagte punt en hierdie is nou die nodige Brood vir n moeilikke Dinsdag! Dankie Baie

charmaine ·

Dries, alles sal uitwerk ons is emosionele weesens en al lyk alles donker en die berg te hoog, sal julle dit met n glimlag en met groot dank oorkom. Soms maak ons die lewe vir ons self ingewikkeld. En soms werk probleme hulle self uit.

Baie sterkte en mag al julle probleme in n oogwink verwdwyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.