Gedagte vir die dag: Moenie alleen probeer klaarkom nie

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.” Prediker 4:9

Christene het ‘n Vader in die hemel en, as mede-erfgename met die Seun, vorm hulle die groot familie van gelowiges op aarde.  Ongelukkig is daar opregte Christene wat om een of ander rede formele Christenbetrokkenheid tot die minimum beperk.  Hulle vermy kerklidmaatskap, bly weg van eredienste, gemeentelike Bybelstudies en bidure.  Hulle verkies om op hulle eie krag staat te maak en alleen te probeer klaarkom.

Daar is groot waarde in die gemeenskap van die gelowiges want dit verseker dat Christene nie nodig het om die uitdagings wat die lewe bied, alleen te probeer oorkom nie.

Êrens naby die meeste Christene kom gelowiges byeen. Mense saam met wie hulle kan aanbid en in die geloof kan groei.  Medegelowiges wat hulle kan ondersteun en deur wie hulle weer in tye van beproewing ondersteun kan word.

In sy brief aan die Efesiërs gee Paulus vir hulle, en vir ons, die volgende raad oor ons verhouding met medegelowiges: “sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” Efesiërs 5:19

Geen sprake daarvan dat jy op jou eie krag moet staatmaak en moet probeer om alleen klaar te kom nie.

In Weermagte en hoë risiko sportsoorte, soos byvoorbeeld bergklim, landlope, ultramaratons en diepsee duik, word die “buddy” stelsel aangemoedig.  Moet nooit hierdie sportsoorte alleen aandurf nie, dit is veels te gevaarlik.

Sommige Christene het ‘n gebedsmaat, maar miskien is dit tyd om dié konsep verder uit te brei en deur ons aksies aan die inhoud van ons vers van vandag gestalte te gee.

Die liggaam van Christus het gelowiges nodig wat tot sy eer saamwerk.  Moenie op jou eie krag vertrou en probeer om alleen klaar te kom nie.

Gebed: Almagtige God, skenk ons vandag deur u genade u krag. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.