Gedagte vir die dag: Moenie bang wees nie

Foto: credomag.com

Foto: credomag.com

Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit so as die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie (Deut. 1:21).

“Die bevel ‘Moenie bang wees nie’ kom 366 keer in die Bybel voor – een keer vir elke dag van ‘n skrikkeljaar soos vanjaar,” vertel iemand my. As dit dan nodig is om een sinsnede so baie keer te herhaal, beteken dit seker dat daar baie dinge is om voor bang te wees! Maar ook dat ons nie nodig het om bang te wees as ons saam met die Here op pad is nie.

Moses is in hierdie gedeelte besig om die volk te herinner hoe dit gekom het dat hulle nou eers – 40 jaar later – weer op die punt is om die beloofde land binne te trek. Veertig jaar vantevore was hulle ook hier op die grens, en hulle het toe verkenners uitgestuur om te kyk hoe die land is. Die het kom vertel watter wonderlike land dit is (v 25). Maar hulle het ook kom vertel van die reuse wat daar waan. Die reuse was vir hulle ‘n groter werklikheid as wat die almagtige God was, en hulle het net daar omgedraai, ten spyte van alles wat Moses kon sê.

Vir ons Iê daar vanjaar waarskynlik ook groot uitdagings – “reuse” – voor. Dit kan iets by jou werk of in jou huisgesin, of die ekonomie, jou gesondheid, die misdaadvlaag, of baie ander dinge wees. Ons sal moet leer om nie na die reuse te kyk nie, maar na die almagtige God wat die jaar saam met ons ingaan. Hy is ons hemelse Vader. Hy is lief vir sy kinders. Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk (Rom. 8:28). Ons hoef nie bang te wees nie.

Gebed: “Dankie dat U ons hier aan die begin van die jaar wil bemoedig. Ek wil nie meer daarvoor bang wees nie.”

Bron: Uit die Beek, 2012 – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.