“As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie” (1 Petrus 1:14).
Skrifgedeelte
1 Petrus 1:3-16
Oordenking
God het aan ons ʼn nuwe lewe gegee. Deur die wedergeboorte het Hy ons weer geestelik lewendig gemaak. Hy het dit gedoen deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Dít is die genade van die woorde, werke en wonders van die Here in ons lewe. Dit gee vir ons hoop en met hierdie hoop kan ons lewe.
Die nuwe lewe wat God aan ons gegee het, verander ons aard. Waar dit vroeër in ons aard was om ongehoorsaam te wees, is dit nou in ons aard om gehoorsaam te wees. Ons is nou “kinders van die gehoorsaamheid”.
Jou opdrag as gehoorsame kind van God is om jou lewe by jou nuwe aard aan te pas. Jy moet ontslae raak van alles wat nie by jou nuwe aard pas nie. Jy moet ophou om jou lewe in te rig volgens die begeertes van jou ou, sondige aard. Jy moenie meer leef soos iemand wat God nie ken of dien nie. Ongehoorsaamheid aan God moet al minder deel van jou lewe wees.
Die fokus in 1 Petrus is op wat jy moet doen, wanneer ander mense verkeerd teenoor jou optree en jou verontreg. Die nuwe lewe wat jy van God ontvang het, hou in dat jy dan “nee” sê vir die drang om ander mense in eie munt terug te betaal. In plaas daarvan om te lewe volgens die gesindheid om kwaad met kwaad te vergeld, moet jy lewe volgens die gesindheid om die kwaad met die goeie te beantwoord. In elke situasie (ook in situasies van verontregting) moet jy vra: “Wat is die regte ding, die goeie, om te doen?” “Wat wil die Here hê dat ek nou moet doen?” Jou lewensmotto moet wees: “Net om U wil te doen”.
- Hierdie kort oordenking is saamgestel deur ds. JL van der Schyff (Welkom-Noord). Dit het oorspronklik in die Almanak van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) verskyn en word met toestemming van die GKSA Almanak se redaksie op Maroela Media gepubliseer.
Amen