Gedagte vir die dag: Moenie moedeloos met jouself wees nie

Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

“Abraham het 175 jaar oud geword. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Ná Abraham se dood het God vir Isak, sy seun, geseën, en dit het baie goed met hom gegaan” (Genesis 25:7, 8b, 11).

Skrifgedeelte
Genesis 25:7, 8b, 11

Oordenking
God se kinders is nie engeltjies nie. Nee, ons maak maar almal met tye goed droog. Ons dink, sê en doen dinge wat ons wéét verkeerd is, ons is soms erg ongehoorsaam en ander kere sommer net hardkoppig. Tog probéér ons. Ons probeer tog hard om binne God se wil te leef, goed met alle mense oor die weg te kom, en liefde te gee. Die wonderlike van ons Vader se liefde is dat Hy ons ken, verstaan en ons elke keer weer met sy groot vergifnis omarm en met sy liefdevolle goedheid seën.

Abraham word beskou as die vader van gelowiges. Wanneer ons egter sy verhaal lees, is dit duidelik dat ons stryd teen reg en verkeerd universeel van menswees is. Ja, ook hy het soms die ondenkbare gedoen en die spoor byster geraak. En tog lees ons oor en oor hoe God hom geseën het. Meer nog: hoe Hy ook sy seun, Isak, met goedheid toegevou het.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.