Gedagte vir die dag: Moenie skynheilig wees nie

Psalm 66:18, 19 – Daar was nie verkeerde dinge in my hart nie. Anders sou die Here nie geluister het nie. God het my gehelp. Skaars het ek Hom om hulp gevra, toe help Hy my.

ʼn Mens kry nogal gereeld met mense te doen wat te kenne gee dat hulle nie meer kerk toe gaan nie, want dit is kwansuis ʼn klomp skynheilige mense wat daar sit. My antwoord is voor die voet dat ek die persoon nooi om deel van die klub te word, want alle, mense is op een of ander manier skynheilig – die persoon ook. Die uitdaging in die lewe is om nie skynheilig te wees nie. God hou van mense wat oop en eerlik is, sonder voorgee en pretensies. Soveel mense vandag loop met maskers. Wat presies in hulle harte en lewens aangaan, word dig geheim gehou; hulle gee iets voor in hulle optrede en gedrag wat nie aandui wie hulle werklik is nie. Jy kry ook ʼn groep mense wat oneindig krities is oor ander mense. Hulle het baie selde ʼn goeie woord oor iemand anders te sê. Hulle is ook baie keer vooroordelend – asof hulle nooit sonde doen nie. Ja, hulle dra die masker van sonder-sonde-deur-die-lewe-gaan. Die Here vra dat ons eerlik met onsself en ander mense sal wees. Jy sien, as jy eerlik is oor wie jy werklik is, kan jy nie anders as om in groot genade teenoor ander mense op te tree nie. Dit is dan wat jy geduldig en vol liefde is met ander mense. Skynheiligheid maak dat jy soms dink  jy is volmaak en maak dat jy neersien op ander mense.

Die grootste skynheiliges sien nie meer hulle eie valsheid raak nie, en begin dan met opregtheid lieg. – André Gide

Gebed: Here, help my om myself te sien soos ek werklik is. Help my om nie agter maskers weg te kruip en voor te gee nie. Gee my U genade vir ander mense.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.