Gedagte vir die dag: Moenie toelaat dat vrees jou lewe oorheers nie

Johannes 14:27 – Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Het jy jou al in ‘n situasie bevind wat jou lewe bedreig?  In die oë gekyk van die persoon of persone wat jou konfronteer en daar geweld gesien?

Mense reageer verskillend in sulke situasies. Daar word gesê dat jy op een van drie maniere sal reageer.  Jy sal vries, veg (as jy kan) of vlug.

Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie. Dit is deel van ons menslike natuur.  Jy kan egter so in die greep van vrees vasgevang word, dat jy geheel en al hulpeloos en weerloos voel.

Dit is nie net die vrees dat iemand ons sal aanval en beseer of doodmaak waaroor ons ons bekommer nie.  Daar is baie ander vrese wat ons in die lewe teëkom.  Vrees vir die toekoms, vrees vir verandering, vir verlies, vir werkloosheid, vir siekte, die lys is baie lank.

God het een antwoord vir al ons vrese.

Dit is dieselfde antwoord wat Hy vir Isak gegee het. “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou.” (Genesis 26:24)  Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom ‘n mens vrees kan oorwin

Hy sê dat ons moet kyk na die wilde voëls, hoe ons hemelse Vader vir hulle sorg. Jesus gee ons die versekering dat ons vir ons hemelse Vader baie meer werd is as die wilde voëls en dat Hy ook in ons behoeftes sal voorsien.  Deur ons oor allerhande sake te bekommer, gaan ons nie help om langer te leef nie. (Matteus 6:25).

Jesus sê dat ons ons nie soos ongelowiges oor wat ons gaan eet of wat ons gaan aantrek moet bekommer nie. Ons moet dag vir dag leef en ons moet ons vir die koninkryk van God beywer en volgens die wil van God leef. (Matteus 6:33)

Die enigste manier wat jy jou vrese kan oorkom, is deur volkome op Jesus Christus te vertrou en in Hom te glo.  Hy is ons Verlosser en Vriend.  Plaas jou hand in sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel.

Gebed:Here Jesus dankie vir U sorg en beskerming.  Dankie dat wanneer ek bang is U my met die krag van u liefde sal omring.  Ek bid dit in die Naam van Jesus, my Verlosser. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons grootste vyand is ons ongeloof want ons twyfel al te dikwels aan al die beloftes en versekeringe wat God ons gee – byvoorbeeld om nie te vrees nie.

Mag ons genade ontvang om onvoorvoordelik te glo in die krag van onse Here.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.